Lente
Intussen is die lente geskip en is dit nou sommersomer. Die kinders wil weer in die water speel en die ou mense wil dit drink. Al Bella se koutande het intussen ook uitgekom en al wat bal, pop, soft-toy, verestoffer of ENIGIETS is word hoogs-onskuldig uit kamers of van tafels af gesteel en by een van haar kou-kolle gekou en herkou.
Die groot buurnuus is dat die Slabberts 'n swembad bou. Die Slabberts het ook 'n moerbeiboom, so die Kritze sou inmekaargetuimel het as dit van hulle was nie. Nou dat ek daaraan dink, maak is dit hulle wat dit moontlik maak om hier te tik, want die kjinners is langsaan aant spele. En bougrond, veral daai rooi soort wat so vuil word en aan alles vassit, is darem 'n lekker speelhoop.
Bobby van Jaarsveld (hy's een van die opkomende jong Afrikaanse sangers; nie sleg so ver as wat hulle soms gaan nie) het by Annika se skool gesing, wat ook pret was.
En dan was daar die sendingfees, wat behalwe vir die kindersendingfees ook 'n pretstap gehad het. Nou ja, as die kinders voor die tyd behoorlik toilet toe gegaan het, sou ons waarskynlik minder hoef te gekroek het.
UIT DIE ARGIEWE:
My geemiriteerde professor-pa dink ek lyk soos hy eens gelyk het. (voor, tweede van regs). Vergelyk dit met die foto van my daaronder en sê of julle saamstem...
Ten laaste my voorblad van Wondernuus...
“Help! Vir wie moet ek luister?”
“Mamma, kom hier!”
“Mamma, Boetie het my sweetie gevat!”
“Vrou, los die kinders en antwoord my!”
Daar is sekere tye in ’n mens se lewe wanneer dit voel of almal iets van jou verwag. En weg van die huis soek die baas, jou vriendinne, jou skoonfamilie en ja, die kerk elkeen hulle pond vleis. Kan iemand jou blameer as jy van jou kop af raak?
In die eerste brief wat Paulus aan die jong Timoteus skryf, praat hy van twee groot roepe wat veg vir jou aandag. Dit voel of ons in twee getrek word. Maar dié twee stemme verskil hemelsbreed en hel baie van mekaar. Die een stem skreeu so kras en veeleisend soos ’n pappagaai. Oor en oor roep hy van ver af met sy miljoen-dollar stem: “Nog meer.... nog meer...... nog meer!” Selfs as jy na sy stem luister en jy stap tot by sy kou, is hy nie tevrede nie en trek hy jou nog dieper agter tralies in. 1Timoteus 6:9-10 praat van hom:
9 Maar dié wat ryk wil word, val in versoeking. Hulle loop hulle vas in die strik van baie sinlose en skadelike begeertes waardeur mense in verderf en ondergang gestort word. 10 Geldgierigheid is ’n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal.
Dit is die stem van die wêreld wat ons verlei met reuse advertensieborde langs die pad. Hulle belowe kits-‘happiness’ iewers in die toekoms vir ons, met borrels en al! Maar nooit kry ons genoeg nie. En as jy die Lotto sou wen, maak die partytjies en huise en karre en meisies nie eers ’n duik in die swart gat nie. “Nog net ’n klein bietjie”, krys hy, “dan proe jy geluk.” Dan het jy sekuriteit.
Daar’s ’n ander roeping wat van baie nader, hier uit jouself uit roep. Hy fluister en nooi ons nog nader na ons binnekante waar die Gees in God se kinders woon. As ons luister na hierdie stem wat ons nader na God nooi, kom ons agter dat die skat van God se rykdom klaar by ons is. En soos ons luister na die fluister van God, gaan ons oë oop en sien ons hoe kras en vals en hard die papagaai se geraas is.
11 Maar jy, man van God, moet van hierdie dinge (soos geldgierigheid) af wegvlug. Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, sagmoedigheid. ...17 ...Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet. 18 Spoor hulle aan om goed te doen, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam. (1 Timothy 6:11, 17-18)
Twee stemme roep ons om op hulle te vertrou. Op watter een vertrou en hoop ons? In watter een lê jou sekuriteit?
0 Comments:
Post a Comment
Subscribe to Post Comments [Atom]
<< Home