Ons webalbum

Elke maand (omtrent) n paar fotos, stories of gedagtes uit my keyboard

Sunday, January 31, 2010

Parabene, monsters en ander gediertes

Nuus nommer eerste: Annika is 'n graad eentjie parabeentjie by Laerskool Bergsig. En meng die gene van 'n P en 'n N en daar kry sy skoon 'n vyfde plek in die 60 meter naalloop by hulle huissport. Haar langbeenmaatjie Marindi het (nes laas jaar) gemaklik gewen. Sy (M) vier dit toe deur 'n kettinkie in te sluk wat toe die volgende week met 'n operasie uit die dikderm gehaal moes word. Zia-lookalike Alicia in blou hemp het net 'n neus na Annika gekom. Dit was 'n heel gemaklike oorgang na graad 1. Met die maatjies wat nog steeds daar is, en die dat dit dieselfde skool is, is skoolklere en huiswerk elke dag die grootste aanpassings. En sy konsentreer ook beter in die klas nadat juf Delmari haar en Wandile weg van mekaar geskuif het.

Eduan is steeds in Rinkel Krinkel. Behalwe dat hy by die ouer-kenmekaar vir gemeentelede van sy pa se alkohol-probleme vertel ("Drink jou pa bier?" -Ja- "Baie of bietjie?" - Baie-) gedra hy homself heel goed en het allerlei aktiwiteite ook by die skool.

Ekself het 'n kortstondige droom gehad van 'n mak tarentaal wat op ons grasperk rondhardloop en soos 'n kruiwa skree. Maar helaas: Strepies was te erg beseer om die paal te kon haal.

Maar wie wil kla: Met 'n eie koggelmander en hasies in ons tuin is daar heelwat lewe. Om nie te praat van die mamma en pappa monsters wat maak asof hulle op die trampolien slaap, maar eintlik deur hulle skrefies-oë loer na sappige prooi nie. En die tuin is groen en die blomme blom met die reen wat net nie wil ophou val nie.
P het sommer vroeg in die jaar baie hard begin werk. Een saterdag tot 22:00 en een sondag tot die maandag-oggend gewerk tot hulle projek uitgerol is. Hierdie foto is baie vroeg geneem, want op die ander lyk gn van haar kollegas te vars nie. En tans is sy besig met die volgende rekenaars opstel - by Clarens by pa Dons se kerk. En ook haar Little Geeks wat weer hierdie week begin tussen al die 'gewone' dinge deure.
Met my volpos gaan dit ook heel goed, dink ek. Gister het ek die jeugdiens se nagmaal hanteer. Da Vinci se "Last Supper" het gevra watter een van die dissipels jy is. Vir 'n eerste keer het die kategete die tekens self in hulle kleingroepe uitgedeel. Klink of dit gewerk het...

En net om te wys dat ons nog steeds bietjie verlang na al laas jaar se kuiers en lekkergede gooi ek nog n paar herinneringe julle kant toe. Austa la vista, baby! (Raai wat het gister op SABC3 gewys?)

Labels: , ,

1 Comments:

Post a Comment

Subscribe to Post Comments [Atom]

<< Home