Daar het soveel dinge die afgelope minder-as-'n-maand gebeur dat dit nie op die selfde blog as die groot troue mag kom nie. Daarom begin ek met 'n kort verslag:
1.
Philip Louw
het getrou
glad nie te koud
glad nie te lou.
Dit was 'n heerlike aand by Middelburg - lanklaas so lekker gekuier met ou en nuwe bekendes. Ons wag nog op 'n uitnodiging vir wanneer ons die oorblywende Nederburg Baronne by hulle kan gaan opdrink. (Miskien moet ons onsself liewer nooi)
2. Ons huweliksherdenking
Ons verken toe die wereld vanuit Mountain View terwyl ons kinders vir hulle oupa, ouma en tannie Muriel (Eduanees: Muma) oppas.
Onder andere naby Cullinan gaan perdry op 'n groot wildsplaas. 'n Groot treat!
3. Te midde van die skoolvakansie vat ek 'n twee-slapies uit vakansie op my eie na Nylsvley-Natuurreservaat naby Nylstroom.
Hier onder 'n dingetjie wat ek toe sommer vir die lekker daaroor skryf:
Nylsvley Special Edition (2-4 April 2008) Ek maak hom skeef-skeef staan op ‘n takkie-mik van ‘n uitgedroogte lekkerruikpeul. Loer deur die gaatjie. Druk die knoppie. En tien sekondes later sit ek vir ’n uur lank en kyk na die vlei van Nylsvley. Op my kampstoel waar ek die elegante grootwitreier van skok soos ’n padda-eend laat wegvlieg het. Want hier hoef jy nie voëls te soek nie. Jy kry hulle maar net as jy kyk. Oor my vlieg veereiers in swerms heen en weer – net soos waar ek vandaan komis hulle skynbaar ook nie tevrede met waar hulle nou is nie. ’n Mannetjie knobbeleend met sy knobbel-broeisnawel. ’n Sketterjoel onidentifiseerbare bruintjies wat opgewonde tjirp in die riete. Dan ’n stuks of tien nonnetjie-eende so skuins verby my (tjie-tjie-tjie) tot hulle doer links by die oop water my aandag trek na die ikoniese visarend. Sy reinwit priesterlike bors, sy koninklike kyk en snawel, sy roep wat profeties die plek tot Afrika verklaar. Nog baie ander. Geelbek-eende, glans-ibisse, koringvoëls, miksterte, neushorings. Dis maar net ’n paar geveerdes wat my gekry het terwyl ek daar met my fleskoffie sit en “An Alien at St. Wilfreds” lees.
Toe ek opstaan en verder soos ’n losgekoopte waterhoender rondwandel, loer twee kameelperde na my. ’n Koedoebul met gedraaide horings by die visarendgat. ‘n Tjik-tjikkende eekhoring bo my tent wip sy stertjie op en af. Bospatryse soos skrikkerige kapokkies. Laatmiddag kom daar ’n donder of twee van Gauteng se kant af. Net genoeg druppels val om ’n rooistof salf te meng en die bosveldgeure in ’n drukgang tot in die kraal van my neus in te jaag. Die wind speel ook skaaphond en my beenhare word Afrika se spelende grasvelde. Ek hoor die katlagters in die huilboom lag en sien hoe hul pylvlekke die weerlig koggel.
My ma is dood, my pa is dood. Al my boeties en sussies is dood-dood-dood-do-do-do-do-do-do... Die groenvlekduifie maak my dankbaar so vroeg in die môre. Nog ‘n dag.
4. Bietjie vroeer die maand ook 'n nag-pretstap in die dieretuin. Veral die tapier het die kinders baie geinspireer, soos julle in P se bydra hier onder (onder andere) kan hoor.
Skeppingsverhaal Hi daar, het net gevoel ek wil vanaand se gesprek in die kar oppad terug van Narike se kombuistee met julle deel. Lyk my Annika kry soms kreatiewe oomblikke as sy moeg is.
Sy se, "Mamma, Jesus het eers sulke houtpoppe gemaak en toe het Hy hulle getoor en toe word hulle mense." Ek se nee, dis nie hoe hy mense gemaak het nie, sy wil weet hoekom nie. Ek verduidelik dat ons nie regtig weet hoe God mense gemaak het nie, maar in die Bybel staan dat God mense van stof gemaak het.
Na 'n rukkie se dink kom die skeppingsverhaal: "Mamma, God het mense gemaak van sulke spesiale stof wat so glad is, so... mens kan dit nie eens voel nie. Eers het Hy so 'n sirkel gemaak en toe sulke bene, en toe so en so (teken in die lug) en toe het Hy die bome en die speelgoed gemaak en dit vir ons gegee, en toe het Hy vir ons ore gemaak. En toe het Hy boekies gemaak om te lees, en toe het Hy vir ons oe gemaak. En toe het Hy 'n ribbebeen uit sy sak gehaal en dit so in ons lyf gesit. En toe het Hy vleis gevat van diere en dit so op ons lyf gesit en dit so sag en glad gemaak..." (ek korrigeer darem oor die vleis "van diere" deel) "... En toe het Hy gerus. Dis hoe God ons gemaak het, ne Mamma!"
... die skeppingsverhaal hou nog aan ...
"En toe het Hy die huise gemaak en die karre en liggies en sterre en die maan ... " (dit het 'n rukkie aangehou) "... en die diere". Ek vra watse diere als. Eduan se "leeu, hiena". Annika se "vlakvark, tapier".
Nou toe, as enigeen nou nog wonder hoe dit gebeur het :) !
5. Die kinderkuier tussen nefies en niggies net na die Kritzinger-familiesaamtrek (en ons huweliksherdenking) moet ook genoem en befoto word:
Die kombuistee (terwyl ek na Klipnes2-huiskonsert van Rudolph gevlug het) en Pierre se bachelors is iets van die verlede.
En nou - byt vas. Want die GROOT partytjie is net 'n paar dae weg!
Labels: dieretuin, Horseback Africa, Nylsvley Nature Reserve, Philip Louw, skeppingsverhaal