Ons webalbum

Elke maand (omtrent) n paar fotos, stories of gedagtes uit my keyboard

Tuesday, September 17, 2013

Al die fronte van Augustus tot September

Met die Lente wat geskiep is en die Somer ons sommer dadelik soos n warm front getref het, volg die volgende nuus

OP HUISFRONT:
Alles voor die wind. Verspreide leesbuie tref Annika gedurig deur, met Pixie wat haar getrou ondersteun. En Erna raak al hoe kreatiewer lus om my deurmekaar-huis te verander na 'n binneshuis-versierde tuiste. Soos die gebreekte orreltjie wat besig is om 'n boekrak te word. 





OP SKOOL en AKTIWITEITS-FRONT:
Die krieketballe kom neer soos rooi hael op verskeie rugbyvelde. Op Saterdae staan Eduan gereed om hulle weg te moker. Op Donderdag-aande se kleingroep rapporteer Annika getrou oor haar akrobaat: Ek word al hoe slapper.
SOSIALE FRONT:
Met die mediadekking van vriendin Lieze Stassen se comeback-album deur Huisgenoot ontmoet Erna die joernalis Jaco Hough-Coetzee. (Luister gerus by https://soundcloud.com/lieze-stassen/brief-vir-jan-blohm-2-lieze) En net daar charm sy hom uit 2 kaartjies vir sy maandelikse spookbustoer. Verskriklik interessant, stylvol en aan te bevele. In vers en beeld:

Kyk uit vir die orbse

Toe ons op die spookbus klim
by die Hokaai Sentrum
in Atterbury was dit nog lig;
ons kon alles sien
en die lugversorging was aangeskakel.

Die spook van Glen High is al lankal fort
en die Elardus-kasteel was te vroeg
vir sussies om op die solder te speel.

Die pad na Melville huis het donker geraak;
ons het stadig uitgeklim
waar bose konsentrasiekampe bedink is.
Vredes-dokumente is ook hier geteken,
maar nie al die inwoners
het dit te siene gekry nie.

Teen daardie uur moes ons flashe
die donker by die stal en die stoep af neem;
nuuskieriges loer by skrefies
van swaar gordyne in.

By die Victoria Hotel (since 1892)
word snoekerballe nou gedek.
Gaste kyk DSTV,maar bad lángs mekaar
in twee baddens met draak pootjies.
Elfie pla nie meer die opsigter nie;
sy het kop verloor toe die soldaat
oorkant by die stasie-pad
een dag stip na haar kyk.
Sy praat nie graag daaroor nie.

By Es'kia Mphahlele kry mense kos
waar Daisy de Melker opgehang is.
En in die krematorium in Staatsartilirie-
weg krap die implantate saans
begeesterd uit die warm oond.

Ons laaste stop is die heldeakker.

Dit is al laat
as ons die laaste oorblyfsel
van 'n verminkte teddiebeer kry
op die graf van Breaker en Murant
wat op grondvlak 'n kis moet deel.
Daar iewers, oppad na die prins se graf,
was 'n onbekende plaat wat oopmond gaap.
Hy het krapperig in ou engels my gegroet
(al sou dit later kompleet nes my zoomlens klink.)
En daar was nie orbse om sy marmer nie.

Die bus se sagte geruis
na die anderkant van Pretoria
neurie Koos Doep se deuntjie
duidelik in my kop:
Wees elkeen wat lag
een maal daar in die nag
op die pad na Nooitgedacht.



Een Saterdag-aand is ons toe sommer ook genooi na 'n njam-njam ete by se huis in Westdene.

OP PERFORM-FRONT
Jitte, skielik is dit 'n aparte front hierdie. Gister juis vra 'n lidmaat my of ek nie 'n liedjie of 3 van Neil Diamond wil sing op die snr-burger onthaal vroeg in Oktober nie. En dan het ek en Erna saamgedig en gesing by Asbos-teater in Johann-Boshoff se show.


OP KERKFRONT:
Die sendingfees (waar ek hier bo saam met Andri die sang begelei) is verby en die Sept-vakansie is op ons. Verder is die boekie van kortstories wat ek saamgestel is, uiteindelik by ons. Die pastorie langs die kerk is al amper heeltemal ingerig vir die CMR se kantore. En die Ringsitting einde Aug was eintlik 'n wonderlike ervaring.


Ek kan natuurlik nie anders as om te brag met die pragtige granaatstene wat deesdae aan my lief se vinger klou nie. ook and weep, ladies!

 

Gelukkig is die koue front hier onder glad nie tussen my en my verloofde nie:



Front                 

Daar's 'n koue front op pad,
'n boog van tande wat
die wolke aanjaag tot
binne in ons kraal.

Sy kondig koue aan;
sonder 'n woord laat sy verstaan
dat niks dieselfde is
as haar lyn in blou verskyn nie.

Daar’s 'n koue vors in die lug:
'n muur wat ek nie kan oorbrug
met woorde, jas of selfs
komberse wat haar wil omhels nie.

Die winter bring die wind;
die wind waai winter aan.
In sy wentelbaan sit ek alléén
met pers gebreide kouse aan.