Die jaar op krukke
Jip, maar so met krukke en al kan hy nog steeds n man bykom met sy skerp punt. Want dit waarby mens aansluit, moet nou afsluit. Enige tyd nou. So die volgende ruk is dit wat gebeur. Maar vir nou dit van die afgelope maand:
Soos gebruiklik het die vrouens die oumense bederf met 'n senior burgewr geselligheid. Tema: Daar doer in die bosveld. Hier ek en my 2 dominee-kollegas (Arend doen volgende jaar die gemeentejaar by ons).
En waarskynlik het die twee kinners laas week hulle laaste spelterapie by Nita gehad. Nie een van die twee was besonder opgewonde of haastig om daar totsiens te se nie. Ons is baie dankbaar dat daar sulke dinge bestaan en is baie gelukkig met hoe die kinders die slegte deel van die jaar hanteer.
Intussen is Eduan erg aan die swemles om hom reg te kry vir KAap st Francis. Hy oefen ook graag in die bad om deur my duikbril te kyk as hy die prop moet uittrek.
En 'n blou ster is gebore; of het hy verskiet? Ons kuier een aand by Pappa's restaurant in Hatfield en luister na Pierre die Blues Man. Daar dare ek toe myself om saam met hom te jam. En voor ek my weer kan kry staan die hele skare op hulle stoele, gooi hulle klere op stage en chant "NAUDE NAUDE NAUDE!!". Amper. Maar ek belowe hulle het hande geklap terwyl ek sommer 'n paar van my eie liedjies ook sing EN saam jam met Pierre (waarmee ek hier onder gesels)
'n Ander ding by die kerk waaroor ek opgewonde is, is die omskepping van ons voorheen doodgrys konsistorie na 'n atmosferiese kapel. Danksy facebook, vriende en 'n oulike gemeente vorder ons ook goed om geld vir matte engordyne in te samel.
En dan Annika wat steeds uitblink in dans. En Eduan met sy tennis natuurlik. Ek het met my eie oe gesien hoe hy 'n 11-jarige seun oorrompel (met 6-5).
En met die heerlike weer (as dit nie reen nie), kon ons laas week dieretuin toe gaan. Hier onder hoop ek dat Daniella nie in die leeukuil val nie.
Dit was die nuus van Oktober. Ietsie oor ek en die Blues MAn:
Blues man
Hoor hoe skree
dit alles blou:
sy kitaar en keel
krap genoeg
om my uit te
stem.
My oë en oor roep
saam:
hierdie lug is
blote grys.
Maar ek speel
saam
aan die bluesman
blues.
Ek buig dit dat
my tone vou,
my skouers
snaarlik daarvan hou
om met donder-blikstem
die slag te
slaan,
die weg te baan
vir
mis, reën, ‘n
dubbel Johnny Walker
uit die gerookte
klanke van New Orleans;
en 'n leerskool
waar die lewe
donker die
enigste rabbi is.
Hier spoeg ons
saam tot laataand
die lekker vrese
uit
in ‘n mikrofoon
se spons.