Nog net 'n week oor! Ek kan nie glo ek sê dit nie, maar ek's actually lus dat die jaar moet begin (en dat die skool dan die kinders moet besighou!)
Maar die maand se tydlyn het as volg verloop:
Maar die maand se tydlyn het as volg verloop:
Na Annika se huispartytjie het ons begin regmaak vir haar strandpartytjie. Daarvoor moes ons almal Kaap st Francis toe gaan! So 3:00 (AM!) maak Eduan ons wakker met 2 woorde wat hy ’n paar keer oor en oor sê. “See Toe!”. Laaste pakke, die oorhandiging van die pers Jazzi (Annika se fiets-geskenk) en daar gaan ons. Voormiddag is ons al by die plaas naby Gariep, vang krappe en krap bokke. En weer ’n vroeg opstaan “om by st Francis te kom” (hierdie is ’n quote uit n nuwe liedjie wat ek 4:30 (AM!) begin sing het om my wakker te hou as die ander slaap).
By Kaap st Francis was een dag so goed soos die volgende dag. Amper elke dag perfekte son en net so bietjie wind om die muggies weg te hou. Al die gewone see-aktiwiteite, maar alles word met oorgawe beleef, veral deur die kinders.
Hordes skulp-optel uitstappies, heerlike strandweer met swemme en oor duine klim. Rondloer in poeletjies vir anemone en rotsvissies. Roomyse eet, vlieer vlieg. Fietsry na die ligtoring of na die wrak al met die tweespoorpaadjie langs. Boeke lees as kinders (moet) rus.
Ons gesinnetjie het een dag na Tsitsikama weggebreek. Die hoë brug en "oerwoud" het gesorg vir groot opwinding. Annika verwonder haar teen twee tree per minuut aan elke mossie, blaartjie en reuse boom. Afgesluit met 'n besoek aan Birds of Eden (nou hoekom dan 'n aap in die foto? sommer!)
Voor Kersfees ry ons terug om, nadat ons deur 'n investasie van vlooie verwelkom is, lekker saam met die Groblers te vakansie. Narike het net soos Muriel gou agtergekom hoe om by hulle neffieuw en niees se harte in te kruip: Bring jou ipad saam! En Herman beseer homself toe hy agterkom dat kinders nie kinderspeletjies is vir mens se ouer-wordende skouers nie. En tannie Willa om Windhoek se naam geslaagd omhoog te hou.
(Annika raak haar kersfeespersent baas) |
Die dag daarna gaan stap ons saam met die Nienabers in die Magaliesberge. Castle Gorge is lieflik.Halfpad is 'n heerlike poeletjie. Dan stap mens aan tot onder die waterval en weer terug na 'n diep poel waarin ek en P van minstens 5 meter af inspring. Ons stap terug in gietende reen, maar die kinders beindruk met dapperheid. Die begin van nog baie avonture.
Jammer vir al die baie fotos, maar ek kon nie anders nie! Ek sluit af, soos dit nou al 'n gewoonte is, met 'n gedig. Bietjie agtergrond daarvan (sodat jy beter kan sien, my kind): Toe ons by die die "Groot Boom" by die Tsitsikama-woud kom, was dit vir my interessant hoe gladgevat die boomwortels van die groot boom is. Mense doen soms maar sulke dinge uit "reference". Toe dink ek aan die keer toe ek in Rome was en hoe gladgevat en gladgesoen die standbeeld van Petrus was. Twee wêrelde hierdie: die natuur en die kerk.
Cheers!
Groot boom
In die opelugmuseum
langs die tuinroete by Stormsrivier
met groener, blouer, hoër plafonne
as St Petrus se laaste vesting:
daar vat pelgrims sy tone glad
in aanbiddings-erkenning
van 'n saad se 2000
jaar oue daad.
Blare wat al eeue val
het die grond goed voorberei,
maar al wat na milleniums hier agterbly
is een enkele voet stewig geplant
met blinkgesoene tone
en ontnugterde drome (van brons en hout).
Ek staar ver op na sy takkebaard
van waar hy grootvoete sien loop het,
volgelinge druppend gedoop het
in spatsels reën en dou.
Ek wonder saam met jou,
seun van Moeder Grond,
met sleutel in die hand
hoe lank ons wêrelde nog hou.