Stoffel en ander afsluitings
Met my memoriam suksesvol afgehandel kan ek oorgaan na die lys dinge wat ook afgehandel is. Petra het 2 van die afgelope maand se naweke my alleengelos om groot pret te he. Die eerste een met 'n klein vrouekamp (net 4 vrouens op die ou-einde) by Sabie. Van nag-strompelinge af na die waterval tot witwater-woelinge op tubes en …. bridge-swinging (“Geronimaaaaaaaaah...", het sy geskree). En goeie maatjies gemaak.
Die ander naweek is sy Durban toe om 'n vriend van ons te help met 'n konsert ten aanvang van COP17. Golfkarretjies rondgery vir celebs en kon darem voete solank klam kry vir volgende week (!) se Kaap st Francis.
Afsluitings en konserte was daar ok genoeg. Sommer 2 groep-afsluitings by Koekemakranka (Snr Bybelstudie en vrydenkers) met keurige geurige kos en geselskap. Waarskynlik gister my laaste versklas vir die jaar gehad. Eduan en Annika se laaste afsluitings. Annika het sertifikaat vir beste sommetjiemaker in Gr2 gekry (haar 2 beste maatjies Zanie en Larissa het onderskeidelik beste sinnetjies en beste overall gekry). En Eduan se catrobatkids-afshow geleentheid hier onder. Gister-aand het ons gesin na 'n indrukwekkende CSI danskonsert van haar dansskool gekyk. Sy het twee danse gedoen: Shake en Speedcop en ook 2 trofees gekry.
Wat nog? Natuurlik ons kerssangfees wat ek sort-of aanmekaargeslaan het. Al wat ek moes doen was om al die mooi stukke bymekaar te hou. Daars soveel mense wat soveel moeite gedoen het om dit 'n besondere aand te maak. Vroeer was dit maar 'n orrel en koor-gedryfte ding, maar nou was daar ons “sanggroep”, die aand se band, 'n dramagroep, danse, orrel en koor, en natuurlik 'n GROOT gesingery.
Net om alles te noem van die afgelope maand is al 'n blogvol. Daar was ok nog 'n heerlike kuier by Monty-hulle wat ek net hier moet noem.
En wat het die katte hier ingedra? “'n Nagapie in Pappa se kamer! Kan hy dit glo?” – in Annika se woorde. En wraggies! Die personifikasie van cute met sy groot ronde oe, dundeurskynde ore , knoppievingertjies wat aan jou vasklou en sy stert (langer as sy lyf) wat om jou arm krul.
En dan... Annika se High School Musical 8 partytjie! Met 20 maatjies in ons erf rond was daar decibels soos nog nooit tevore nie. HSM se musiek draai nog steeds oral in ons huis rond, gewoonlik omdat Annika die liedjies woord vir woord saamsing. Die nou-al tradisionele karaoki en skattejag was weereens groot pret.