Stretch die vakansie!
Die vakansie is verby. So asof dit ons pla! Want Petra gaan kuier vir 'n week by Muriel en ek gaan vir 'n lekker Kritzinger langnaweek na Clarens. En in die 4dae-skoolweek wat verby is, raak die kinders by 4 verskillende huise aan die slaap. En ek beland in 'n kuiergroepie en maak 'n spul nuwe interessante vriende. (Soos Petra se Kaapse maatjie Christine). Tempo tempo tempo.
Ons begin met so paar Nederland fotos wat meer Oostenrykste fotos is. Die trippie verdien natuurlik sy eie blog van 'n paar sessies. Lyk die tweetjies nie net so lekker gechill nie! En dan die drietjies in dalende trappe van vergelyking. Geen sorge in 'n idilliese wereld.




En net so laaste 2 fototjies van 'n piekniekplek hier naby wat ons oor die vakansie ontdek het langs die Mighty Apies River.
My kankerlêer gesluit?
Vanoggend weer die bekende roetine. Toonbank toe, vorms invul, wag, bloed trek, radioloë se toonbank toe, vorms invul, wag, groen safarierok aantrek, sonars, koue gel, aantrek, onkologie toe, bloeddruk neem, wag, geroep na dokter, sit op stoel, hoor uitslag. Vervelige roetine, maar met ’n kilkoue byt. ’n Byt met ‘n ‘k’ vir kanker. Vir dood. In your face.
Maar toe die dokter aan die einde van hierdie vier jaar my lêer toemaak, was ek bietjie hartseer. Ek het lief geraak vir hierdie wrede vriend. Sy slagtande het my meer as een keer oor die kleintuintjie se hekkie gejaag. Buitentoe waar daisies geler blom en gras groener voel onder my kaal tone. Waar elke asem ’n geskenk is en ’n verslaapte nek ’n teken is dat ek opgestaan het. Om te lewe. Ek gaan hom mis.
Maar ek gaan hom nie te lank mis nie. Ander gediertes blaf al klaar vir my en laat my nie te naby aan my rusbank kom nie. En hier gat ek weer oor die hekkie met die soet stank van haar asem in my neus.