Ons webalbum

Elke maand (omtrent) n paar fotos, stories of gedagtes uit my keyboard

Tuesday, November 17, 2009

Okt-Nov

Hallo familie!

Hier onder sit ek sommer (alweer) Petra aan die woord. Die Groblers het mos deesdae hulle 2-weeklikse opdatumhou emails. So dis die P wat skryf (behalwe as ek anders sê)

P: Ons probeer maar kop bo water hou met die einde van die jaar. Het so 5 konserte om by te woon, 'n hele paar afskeidsfunksies en kers-funksies, om nie te praat van al die prysuitdelings en partytjies nie (dis nou as mens se kinders begin skoolgaan...) Maar ons geniet dit en sien net uit na Desember! [Naude: Vanaand is juis Eduan se musiek-konsert - hys blykbaar 'n lewendige speelgoed en 'n soldaat]

Ek was die afgelope naweek op 'n vroue-kamp waar ek en 'n ander vrou die praise & worship gelei het. Dit was baie lekker, behalwe dat ons Vrydagaand 'n haelstorm gehad het soos ek nog nie beleef het nie, en toe 'n kragonderbreking wat maak dat ons die aand niks verder kan doen nie! Die res van die naweek het darem goed gegaan.

Naude sê: Petra het met haar kamp die Naude-naweek by die Leeufontein Wollies gemis. Ons en die kinders het geswem, perdry, slip-n-slide en baie gekuier. Johanette-hulle se Chrisna is ook met 'n kort, baie persoonlike diensie toegewei aan die Here. Ons wag maar nog vir die beloofte dvd vanaf die Wollies.

Weer Petra:
Annika maak reg vir Gr 1, kan nie uitgekuier raak met al haar maats nie, en floreer op elke terrein (ook op die terrein van baklei met haar boetie!) Eduan vermaak ons daagliks met sy kwinkslae, en rympies en liedjies wat heel geredelik opgese word. Die bulletjie-rugby afrigter wil hom volgende jaar by die span he (al begin dit eintlik eers vir Gr R'e!) en altwee klim boom asof dit uit die mode gaan.

Die slegte nuus is dat een van ons hasies, Jay-jay (Gift s'n) dit nie gemaak het nie. Hyt besluit om te gaan kennis maak met die bure, en nie rekening gehou met die bure se twee rotweilers nie :(. So bid Eduan toe ook een oggend (soos altyd word vir alles dankie gese) "dankie vir mamma en pappa en annika en pappa en gift en dankie vir paljas, en dankie vir Annika se hasie Shaden, en nie dankie vir Gift se hasie Jay jay wat weg is nie, en dankie vir..."

Naude was Maandag tot vandag op 'n retreat, (Naude: Hier 'n foto van n skildery wat ek daar in 'n kapel afgeneem het - ekt toe die jeug se nagmaal daarna daaroor gepreek)
en more is ek weer uit-huisig met 'n werksfunksie. Maandag middag toe ek terugry van die werk af val 'n groot tak my kar net-net mis (skraap net die dak bietjie). Ek stop toe om soos 'n goeie landsburger dit uit die pad uit te sleep, maar toe ek by hom kom sien ek dis meer soos 'n boom as 'n tak. So hittete of hyt my voorruit uitgeval! Jip, dis gevaarlik hier in Suid-Afrika!

Naude: So tussen-in nog 'n pretstap aldiepad bergop saam met die naskool
Petra 2 weke later: ...
Annika het vanaand prys-uitdeling gehad, en behalwe dat sy ge"gradueer" het na graad 1 (dis minder belangrik), het sy ook 'n prys gekry vir "Getroue Hasiekos" (kinders wat gereeld vir die skool-hasies kos neem - dis baie belangrik want anders vrek die hase!) Sy is baie trots dat sy 3 keer op die verhoog was, die 3de een is vir "mooi werkies" soos sy sê, of "puik skolastiese prestasie" soos die sertifikaat sê :). Nodeloos om te se is haar ma en pa en oumas en oupas en tannie johanna en almal baie trots op die groot meisiekind. Toe sy vir ouma Rika bel om die nuus te vertel, rammel sy so vinnig die 3 pryse af, en vertel toe in detail dat sy DRIE koeksisters en nog 'n halwe een en nog 'n vleispasteitjie gehad het :) (laat ons by die belangrike dinge kom!)

Saterdagoggend het ek en Naude en Andri (my musiek juffrou/vriendin) by 'n ouetehuis gesing. Eduan besluit toe dat hy ook 'n liedjie wil sing, en vir 'n verandering het hy nie sy "mind gechange" nie. So staan hy toe op 'n stoel en skree-sê-sing "Die duiwel is 'n skelm vos!" [sien laas maand se blog vir die live-performance] Ai, die oumensies het dit gate uit geniet, hy was die ster van die oggend!

En ja, ek het vir die eerste keer in my lewe alleen gesing (soos in SOLO) in 'n konsert (dis nou nie nodig om te noem dat daar net so 20 mense by die konsert was, en dat ek die enigste "leerling" was wat nie meer op skool is nie!) Hoe-ook-al, dit was groot pret, en klink of dit darem nie te sleg afgegaan het nie. Volgende jaar sit ek verseker my sanglesse voort met dalk bietjie kitaar by, dis SOOO lekker!

Naude was ook 'n konsert-ster met sy Pianoman-mondfluitjie. Andri moes net na die tyd almal inlig dat sy nie mondfluitjie-lesse gee nie, ongelukkig nie.

Verder sluit hulle af by die kerk (op allerlei maniere) en begin voorberei vir volgende jaar sonder die snr kollega, Francois, wat nou aftree. Dan sal Naude en Wouter vol poste hê... sal nog sien hoe dit met ons leef-styl akkommodeer :). Maar ons is dankbaar vir die ekstra geldjies!

Naude sê: Hier onder twee kerkblad-beriggies vandie afgelope maand of 2. Die een is hoe ek my aftredende kollega sal onthou en die ander een wat iets sê van die uitdagings hier by die kerk.

Die gemaskerde Sopbeen en ander lewende legendes
Die amper tien jaar gelede voel soos nou-die-dag toe ek vir die eerste keer in Francois se arends-oë en –neus vasgekyk het. En ’n week of wat later het hy aan my geen keuse gegee nie – hier by Wonderboompoort gaan ek werk as pastorale hulp. (“En los maar die ander ander onderhoude, dankie!”) Want die agterkleinkind van sy oupagrootjie Generaal Joubert (wat teen sy studeerkamermuur hang) los nie sommer ’n idee wat hy dink ’n goeie idee is nie. Die idee word gedryf met soveel entoesiasme en opregtheid dat die’s rondom hom ook later nie anders kan as om te sê: “Met my God spring ek oor ’n muur” nie (2 Samuel 22:30).

En daar was ’n paar idees. Met intrapslag ’n wêreldrekord-sosatie – wie se idee? Sendingfees en geloofsbelofte-offers. ’n Span nutsmanne wat hy om hom saamtrek en by PEN invaar om alles reg te maak. Fietstoere ook ten bate van PEN. Die predikante met groen hare wat in ’n plakkershut op die kerk se grasperk slaap. (Wie se idee was dit?). Die Gemaskerde Sopbeen staan nie terug vir Spiermier of enige ander belaglikhede nie – solank dit vir ’n goeie doel is!

Ek weet nie of hy al jammer gekry het oor sy (en die res van die kommissie) se besluit dat ek ’n kollega moes word nie. Ek het soms my kop (met of sonder ‘n glimlag) geskud. Maar vandag kan ek met alle eerlikheid sê dat ek bly is dat ek in Wonderboompoort aangeland het. En ek is bly oor die die kollega wat die eerste paar jaar nog “Oom Francois” was maar intussen jonger geword het. Dit was hy wat my oor die telefoon moes help as ek my eerste begrafnis of kerssangdiens moes hou. Intussen het ek geleer om sekere dinge op my eie manier te doen. Maar ek kry pas-afgestudeerde predikante jammer wat alleen in ’n gemeente instap sonder die hulp wat ek by Francois (en natuurlik Wouter) gekry het.

Die “ou dominee” het ’n goeie balans gehad tussen dit behou wat goed is en verandering. “Wat is ’n mind as jy hom nie kan change nie?”, het hy op baie geleenthede gesê. Die selfde dominee wat afkeurend gepraat het van ’n jongpredikant wat in die aand kom preek het sonder ’n baadjie, spreek wragtig 7 jaar later vir Wouter aan dat hy miskien in die aand sy baadjie moet uittrek! En al hou sy klassieke oor glad nie van die raasband in die aand nie, sal hy dit nie slegpraat as dit maak dat die Goeie Nuus in elke taal gepraat sal word nie – selfs tienertaal!

As Francois die Gemaskerde Sopbeen is, is Isabel dan seker die belangrikste “ander lewende legende” waarvan die beriggie se opskrif praat. Van ’n vrou moet mens seker nie sê dat sy haar gewig in goud werd is nie (enigiets oor gewig is uit), maar Isabel is beslis. Laat ek miskien maar net sê dat dit altyd ’n plesier is om met haar te doen te kry en saam met haar te werk. Sy het hart en siel in die gemeente ingesit en groot skatte in die hemel bymekaargemaak. Francois en Isabel – ek en Petra gaan julle mis. Geniet die reis vorentoe.

Tradisie
Daar is baie kosbare tradisies in die NG Kerk. Party daarvan het grootliks al weggeval. Soos die ouderlinge se swart pakke en wit dasse, die predikant se waardige toga. Van kleintyd af onthou ek nog die kodewoorde “Kom ons bid saam”. Dit beteken die mans moet opstaan, maar die vrouens mag maar bly sit, want die dominee gaan nou laaaank bid. Tradisies. Ander tradisies het ons nog steeds. Soos die wet en geloofsbelydenis tydens eredienste. Die orrel wat moet begelei. Die kansel wat hoog moet uittroon sodat die gewone sondaars weet dat die dominee so entjie nader aan die hemel is as hulle.

Waar kom die tradisies vandaan? In die musiekblyspel Fiddler on the Roof praat die tradisionele Jood met en van ons:

“We have traditions for everything… ‘Where do these traditions come from?’, you may ask. I’ll tell you… I don’t know. But it’s tradition.”

En dis waar die goud van tradisie ‘n moddermoeras kan word. As dit sy eie lewe kry en ons genadeloos opslurp of soos marionette wil beheer. Sonder dat ons weet hoekom dit so gedoen word. Hoe sou Jesus oor sulke tradisie praat? Dis daar waar die Lam duidelik ook ’n Leeu is. Jesus het op sy kwaaiste geraak as goeie godsdienstige mense te veel maak van tradisies.



Die gemeente het vir ‘n paar weke in Oktober vir volgende jaar se beplanning gebid. En met die kerkraad se beplanning was daar ‘n groot openheid tot verandering. Sommige dinge in 2010 gaan anders lyk as wat ons gewoond is. Maar ons sekuriteit is nie in tradisie nie. Soos ons ou tradisie uit die Hervorming sê: Sola Sriptura (Net die woord – nie tradisie nie). Ons kerk is op die Rots van Jesus Christus en sy Woord gebou


(Klaar met berig. Nou Naudé 'live':) En dan was daar nog PENNIES se inhuldiging van hulle nuwe gebou (waarvan Annika een-en-half baksteen gekoop het met haar volle spaarvarkie wat sy leeggemaak het). Hier is Petra wat die naweek vooraf inderhaas die rekenaarsentrum werkbaar kry.




En, dalk die klimaks (no pun intended)... Rudolph en Francilié! Ja, hulle het getrou by Rosendal, want Francilié het op die landskaart gekyk en (lees falsetto)... "Oeeee, Rosendal! Wat 'n mooi naam. Kom ons trou daar, skattie!". En hierdie keer kon die blonde noodlot nie beter geval het nie. Dit was die lekkerste outentieke outydse plattelandse kuier-troue wat mens kan kry. Ek dink ook, btw, dat die tweetjies altwee baie goed gedoen het met mekaar. Seeninge van bo toegewens.



Afsluitend met Leonard Cohen se Hallelujah:
Your faith was strong but you needed proof
You saw her bathing on the roof
Her beauty and the moonlight going through ya
She tied you to a kitchen chair - she broke your throne, she cut your hair
and from your lips she drew the hallelujah...

...
There's a place of life in every word, doesn't matter which You've heard -
the holy - or the broken - Hallelujah