Sommer net
Sy nefie, aan die ander kant, toon al die talent om hom 'n Shark-ondersteuner te maak.
Die niggies oor die waters het darem nie drank nodig om hulle die hoogtes in te neem nie. Net 'n ouma en oupa wat ver vlieg om hulle te inspireer. Alhoewel, pa en ma het nie 'n gebrek aan avontuurlus nie.Ek het die lekkerste werksfunksie nog ooit bygewoon - en dit was nie eers my eie nie. P se werk het 'n piekniek gereel. Dit was soos 'n dag se seevakansie, net sonder die see.
En toe slaan die siektes skielik 'n ses. Eduan 'n sessie, toe Annika 'n sessie (Jade tussen-in 'n sessie), en toe beland Annika drup, pens en pootjies in die hospitaal. Die oumas se kuier en legkaart het darem getroos. Maar Annika bid gisteraand: "Dankie Jesus dat ek uit die hospitaal is, want dit was niks lekker nie."
Maar die reen val en die seen is groot.
Die tuin is groen en vakansie begin-begin in ons bene insyfer. Pa Dirk is aan die bou vir 'n en-suite badkamer. Dinger gebeur en ons is lief vir mekaar.
Miskien is dit kersfees wat nader kom. Om af te sluit, my voorblad vir ons kerkblaadjie.
Hou die blink kant bo.
Kersfees – God se deur gaan ’n skrefie oop
Wat is die ding wat die meeste uitstaan in die kerstyd? Wat maak kersfees so magic?
Toe ons dogtertjie so week terug ’n draai in die hospitaal maak, koop my vroutjie ‘n Sarie Marais (noem haar sommer Sarie) om die wakende ma of pa geselskap te hou. Ek loer toe na ’n paar artikels waar elke talentvolle geestelike en beestelike sy kers-konfetti strooi. Kaalkop Nataniël praat oor die vreemde ding dat kersliedere wat elke jaar weer dieselfde is, nie ons verveel nie, maar eerder weer ons kersies se lonte aansteek. Koos van der Merwe (van die band Prophet) sê daar is ’n tyd om die nabyheid van die Here Jesus te vier en ’n tyd om te rou. En kersfees is feestyd en eettyd. Biskop Tutu sê: “Dis God se wêreld en dit maak nie saak hoe sleg dinge raak nie, alles sal uiteindelik okei wees.” Ek blaai aan. Izak de Villers oor kersbriewe en die gemis van geliefdes. Tobie Cronjé sê kersfees gaan oor eenvoud.
Tussen al die tydskrif se herinnering-stories van kersfees waarin jy oumas se malvapoeding en melktert kan ruik, is daar ’n openheid. Soos ’n madeliefie vir die son in die middeldag. Skielik is al die skrywers lus om hart en hande oop te gooi en te sê: “Kyk wat is hier binne”. Dit is hoe ek voel, dit is wie ek is. Selfs al is dit seer word dit nie weggesteek nie. ’n Kosbare loergaatjie word deur mure om mense geboor. Daar is ook skielik ’n groter openheid vir die groter Son. In die sekulêre Sarie praat man en muis skielik openlik oor hulle ervaring van God. ’n God wat wraggies nog in al die mensies beleef word, al word dit die res van die jaar so maklik verdoof. Elkeen se blomblare staan oop op sy eie manier oop vir hierdie groterheid.
Ek vermoed Kersfees is ’n geskenk aan ons van ons hemelse Vader. ’n Loergaatjie oopgedraai vir krismis. ’n Loergaatjie na ons bure se binnekant en na ons eie binnekant. ’n Loergaatjie na God se Koninkryk. God maak die hemel ’n skrefie oop sodat ons ’n dun beeld kan kry van wat dit sou beteken as ons bid:
Laat U Koninkryk kom – Laat U wil geskied soos in die hemel, so ook op aarde.
As die deur ’n skrefie oopgaan word Jesus gebore. As die deur oopgaan, maak ons ons harte vir mekaar en vir God oop sodat God die saadjie van hoop in ons kan plant.
Kom, Here Jesus! Maranatha. Laat U Koninkryk kom.
Labels: hospitaal, Kersfees, Postilion piekniek, reen