4x4 en die gewone gedroggies
Die onlangste happening was dat swarrie Herman uiteindelik die geleentheid gekry het om sy Land Cruiser vir ons ook af te show. Wow! groot pret by Hennopsrivier hierdie Saterdag gewees. Die ding het die pad sy gat laat sien, hoor!
Verder maar ons gewone prette hier by Mountain View. Lekker gestap op die berg - kyk net hoe staar die mense oor die vallei.
En ons stappies om die blok natuurlik. Hier huppel ma en dogter al te vrolik soos bokkies.
Die ou liewe dogtertjie was natuurlik minder vrolik toe ma se week of 2 gelede skielik 'n sker gryp en al die prinseslokke uit haar sagte wesetjie sny. Dis immers hoekom sy nog altyd haar groente geeet het en soveel onsmaaklikhede van ons verdra het - want dit laat haar hare groei!
Maar moenie bekommerd wees nie, oumas, sy het daaroor gekom. (Of is dit hoekom sy haar bed deesdae natmaak? Oeps...) Nee wat, kyk hoe lekker speel sy en E in die tuin. Die kleineman raak ook al hoe ouliker. Se nog nie veel meer as tatta nie, maar hy verstaan homself minstens in Afrikaans en Zulu. Skree diep beswaard as hy nie NOU sy sin kry nie of as Paljas nie die blompot NOU dadelik vir hom bring sodat hy dit weer vir haar kan gooi nie.Ter afsluiting - ons het nie 'n fliek gesien nie, maar DIE fliek. Hier onder is 'n artikeltjie wat miskien die voorblad van ons gemeente-maandblaadjie kan haal. Intussen: groete
Ek het laas week die fliek van my lewe gekyk. Een van daais met onderskrifte. ’n Sweedse fliek: “As it is in heaven”. Diep, maar nie te diep vir die vlakkes onder ons nie. Die storie wil ek nie weggee nie, want gaan kyk dit self, al is dit dan eers op video. Die fliek gaan sommer oor die lewe. Net soos die lewe is – rou, kaal. Maar dit praat ook hard met my as predikant en vir ons as kerk. Ons wat juis miskien bang is vir die rou en die kaal.
Aan die een kant is daar ’n predikant met die naam Stig. In beheer, gerespekteerd. Hy het die gewoonte om Bybels te skenk vir nuwe mense wat in “sy” dorpie intrek. En dan is daar Daniël, die stukkende soekende siek dirigent wat huiwerig instem om die kerkkoor af te rig. Dis nie lank nie of hierdie twee word teen mekaar afgespeel. Want, so lyk dit vir my, die lewensveranderende krag is nie in die steriele ruimte van die kerk nie. Nee, God is juis daar aan die werk waar sy Naam nie eers genoem word nie. Daar waar mense op mekaar skree, daar waar gehuil word, gesing word, gelag word, gedans word. In die film word die Heilige Mis uitgestel as gevolg van ’n gebrek aan belangstelling. Op die selfde oomblik is mense vrolik rondom “crackers” en kaas bymekaar by die dirrigent se huis. Daar beleef hulle gemeenskap, troos en bemoediging.
Wat vir my hartseer is, is nie soseer dat die mis afgestel is nie. Wat hartseer is, is dat die kerk God se asem in die wêreld miskyk. Moet ons vir wie Hy lewe gegee het, nie die eerstes wees wat lewe nie? Die film het my uitgedaag om die volgende vrae vir myself te beantwoord: Waar sien ek vandag God werk? Hoe is Hy besig met mense rondom my? Dit is eers as ons sy lewe kan sien, dat ons kan deel van sy werk op aarde kan word.
In die Nuwe Testament is daar meer as 80 beelde van die kerk: lig vir die wêreld, ’n bruid, ’n skip wat oppad is, die liggaam van Christus.... Kom ons ruil ons fronse in vir helpende arms. Kom ons wees sy geur van vars brood. Kom ons strooi ons sout oor die wêreld.
Kom ons gaan eet saam “crackers”.