Dis 'n heerlike lengte!
Hier volg 'n heerlike lengte blog in 'n heerlike Lentedag! En Lente beteken ook dinge gebeur - tans is ons aan die gang met sendingweek. Het juis vanoggend met 'n paar van ons sendelinge gekuier rondom 'n Bugghatti's Farmer's Breakfast. As oploop daarheen het ons 'n sendingontbyt gehad en ook sommer 'n hele Saterdag-middag se volleyballdag met ander gemeentes.
Die dominee wat hulle toe vra om met 'n gebed te open, bid toe: ".... en gee tog dat Wonderboompoort tog nie die ander spanne te seer maak nie" (okei, dit was ek.... en hulle het ons toe nie te seer gemaak nie).
Laas Vrydag was lentedag. Eduan en Annika het aan mnr en jufrou lente deelgeneem.
En E stap toe weg met die prys vir mnr kleuter. Sy girlfriend (oh my soul!!!) het blykbaar die mej kleuter gewen. En A was pragtig! Synde Petra as lid van die Elite Geek-span gewoonlik aantrek net soos hulle wil, het haar span bietjie OPgedres in univorms.
Wat sal mens die drietjies noem? Good, bad, and ugly - naah! Leeu, Heks en Hangkas - naaah! Die flirt, die witch en die fairy - naaah! Anonieme pryse beskikbaar vir die weninskrywing!
Ek self beleef 'n ongelooflike kreatiewe skryftyd. Ek werk gedigte en woordsketse sommer in teen 2 of 3 per dag. En Pdink dis briljant al verstaan sy dit nie. :-) Ek voel sommer diep. Snaaks die dinge wat mens inspirasie gee. (Weet een van julle bv wat het Beatles se "Lucy in the Sky with Diamonds" geinspireer?)
Neewat, een van die groot inspirasies was 'n volle 7 dae-langeretreat by Sediba Retreat Center. Dis een van die vereistes van die 2 jaar kursus in Geestelike Begeleiding wat ek doen. Dit was besonder intens, besonder goed, en op 'n besonder goeie tyd in my lewe gewees! Die collage se dalk iets! (Ouers Kritzinger: Kliek op die foto - dan laai hy dit groter af van die net en walllaaa! julle kan lees!)
Nog 'n paar ander snapshots met my selfoon. Die plek kyk lieflik oor die Harties-dam. Hier vanaf my in die aand-bid plek.
Hier in my vroegmiddag bidboom
Hiers sommer 'n diep gediggie oor my bidboom:
Die Twee Weë
Hier hang ek my skoene op
aan die mik van die heilige boom
en stap nie meer nie.
Hier sit ek eers vir ’n rukkie
die foon af van die mikkie –
niks wat my lewe beheer nie.
Hier hang ek my sleutels ook
aan ’n tak waar hul hoort –
geen kar of huis maak my sak hier seer nie.
Ek woon hier in my boom
’n ewigheid se magaliesdroom
maar die rym bind my vas
en ek sit op my bas
hier sal my sterre nie kan hiberneer nie
en ek nie stylvol kan kontempleer nie
O wee!
(Toemaar - die's wat te intens is los ek maar in maar hierdie kant van die interweb)Maar hier tog enetjie wat 'n blik gee op die retreat:
Ikoon
Dis nie Jesus nie!
wou ek uitvaar by die heilige plek.
Maar met die tyd saam
het die kwaai oë hartseer geword.
En het sy plooie,
moeg van doringlyding,
steeds my handevol seer aangetrek
en my in sy poele van sagte liefde laat insink.
As ek nou my oë op skrefies trek
is daar ’n lag, ’n knipoog
wat uit my Ikoon se mondhoek blom.
He 'n heerlike lengte Lente (vir die's aan hierdie kant van die wereld)
N&P&A&E
0 Comments:
Post a Comment
Subscribe to Post Comments [Atom]
<< Home