Ons webalbum

Elke maand (omtrent) n paar fotos, stories of gedagtes uit my keyboard

Sunday, January 13, 2008

Keerom omgekeer

Op 11 Des bars daar ‘n storm los op ons erf. ‘n Spul kinders (ek kon hulle nie eers tel nie) sak op ons toe vir Prinses Annika se verjaarsdag. Vroulief het haarself, teen haar selfsiening, weer bewys as besonder kreatief met ‘n prinseskoek uit ‘n sprokieswêreld.

‘n Uur en n half later, na n swieties-instpoppery, rondspeel soos ons tuin nog nooit gesien het nie en n prinses-dansvertoning, sak die letterlike wolkbreuk toe. 60 mm in minder as ‘n uur, as ek reg onthou.

Maar selfs hierdie storms kon maar min voorberei op die vakansie wat op ons wag. ‘n Lieflike storm van 3 weke. 8 kinders en 8 grootmense (en 2 honde – skuus Tombi en Tunzi) onder een dak wat uitkyk op die wildekant van Kaap st Francis.

Die fotos op my rekenaar trek maar die lysie op van alles wat ons gedoen het: swem en sandspeel by die strand, skulpies optel tussen die afspringrotse op die skulpiestrand, kyk na die branders wat by die spatrots hulle-self hoog in die lug gooi. Fietsry op die teer en die wrak-toe se tweespoorpaadjie terwyl die sout en die Kaap st Francis bossies se geur jou hare deurmekaarkrap (nê Henry, Oupa en ek!). Vlieervlieg en uitstappies na Stormsriviermond, Plet se Monkeyland en Birds of Eden, perdry (ek bedoel –jaag) langs Oesterbaai se strand. Opgewonde raak oor otters en walvisse, rondloer in rotspoeletjies en vroetel agter vissies en seesterre.


Gepraat van vissies – Henry skiet die see-ekwivalent van ‘n nuuskierige maltese poedel deur sy middellyf met ‘n geleende visgeweer. Maar hy is vergewe - sy sjarme teenoor die manlike geslag lok toe darem ‘n groot spearfisher (JP) nader wat ons laat smul aan sy 19.5 kg geelstert.

Chrissie se familiekerk in die aand was groot pret vir almal. Elke aand was daar nog iets opwindend vir die kinders om oor opgewonde te raak. Oukersdag het ons adventskerse aangesteek, gesing , persente uitgedeel en later moes ‘n onderstebo haasmasker maar Oupa Kersfees se wit baard met ore wees. Tog te lekker dat die Guldenphennigs ook saam met ons Jesus se verjaarsdagpartytjie kon hou.

En nou is dit al 2008 in. Sondag is ons eerste informele diens (gesinsdiens) wat parrallel aan die kerkdiens loop en eks opgewonde oor dit en ander nuwe dinge by die kerk. Petra begin weer by Postilion. Eduan en Annika is nou saam by Trippeltoontjies en ons het ‘n nuwe “Gift” in die huis wat so pas by Laerskool Wespark plek gekry het.

Mag sy son wat op ons rug skyn ons almal engelvlerkies vir die jaar vorentoe gee.

Vrede

Labels:

1 Comments:

  • At 11:07 AM , Blogger Leila said...

    Naude, Ek geniet julle blog vreeslik baie. Die vakansie lyk of dit heerlik was - die laaste foto is vreeslik mooi. Dankie vir al die moeite. Liefde, Muriel

     

Post a Comment

Subscribe to Post Comments [Atom]

<< Home