Ons webalbum

Elke maand (omtrent) n paar fotos, stories of gedagtes uit my keyboard

Sunday, December 16, 2007

A Wedding and many funerals

Toe maar, ontspan – die funerals is nie letterlik nie, dis sommer maar net al die afsluitings van die jaar.

Maar daar was ’n letterlike en behoorlike troue. Izak en Carin se lieflike troue by die wildtuin was meer as die lang ry werd.

Na die diens het ons sherry en biltong op die koppie buite Skukuza gaan geniet. Met ’n spesiale reeling met die veldwagters dat ons die sonsondergang oor die Olifante kan sien sak en eers na donker in die Skukuza-dorpie kon ingaan.

Daar moes die heienas eers weggejaag word dat die bruidspaar ongesteurd hulle opwagting kan maak. So ’n lekker kuier met al die vriende wat ons heeltemal te min sien. En oor die leeus en olifante en ander klein en groot vreugdes kla ons beslis nie.

Die begrafnisse van al die aksies en dinge? Hier kom ’n paar. Kleingroep-afsluiting (sommer in ons huis ’n lekker smullery), ringafsluiting (’n eet-dat-jy-dik word by Boston saam met die ander predikante), ’n sendingkom-brunch en ’n Gemeente-afsluitingsfunksie waar ons met teelepels borde-vol skep. Dan was daar nog 2 werksafsluitingsfunksie van Petra. Een was vir die stylvolle grootmense by ’n deftige cousine (dit beteken ’n reeks van klein eetbare kunswerkies in die middel van groot wit borde). Die ander een was spesiaal vir die kinders gereel by ’n aarbei-pluk plaas. Die boer is te lui om hulle te pluk, so hy vra ekstra baie dat die mense dit self mag pluk.

Ek is seker ek het ’n paar afsluitings gemis, maar nog een laatste een was Annika se Trippeltoontjies-afsluiting in ’n kerksaal. Die reen kon nie keer dat Veronica binne in die saal lugkastele bou (en die kinders daarop spring) nie. Niks soos ’n kleuterskool-afsluiting om by jou buurvrou aan te lê nie (ek was Josef en sy Maria in die vinnig-geoefende kersspel).

Ons vriend Rudolph Raath het al weer 'n oulike ding gedoen. Hierdie keer reel hy toe 'n huiskonsert by sy klipnes-huis. Ilse Doyer (nee Rohrs) se fotos uitgestal op die boonste vlak, 'n groot wynproe-geleentheid saam met Margot Bester, sublieme kos saam met Amanda "Avocado" Burger, en alles afgerond met 'n band wat die uwe se liedjies bespeel. "Autumn Love" nogal 'n favourite, maar alles is CD-materiaal. Ons wag in spanning met ons rande in ons beursies vir 'n vroee getekende eksemplaar. Annika en Eduan was saam en het hulle besonders goed gedra. Hier onder is Annika oppad na Rudolph se huis in 'n oomblik wat sy nie met die paddavissies gespeel het nie.

Net voor ons na ons hart se huis in Kaap st Francis ry, het ek ’n baie sinvolle seminaar naby Hermanus bygewoon. Volwasse Menswees is die ding se naam en dis onmoontlik om hier in ’n paar woorde iets daarvan raak te probeer vat.

Op hierdie stadium is ons reeds baie hard besig om aan ons volgende blog te leef. Ek tik hierdie een terwyl ek op ons eerste bewolkte dag uitkyk op die rotse en die see. Met kinders wat skulpies sorteer en vrouens wat kos maak. (Okei, en ek skottelgoed was – die nuwe aarde is nog nie hier nie). Kyk uit vir meer in die nuwe jaar.

0 Comments:

Post a Comment

Subscribe to Post Comments [Atom]

<< Home